Op 16 November 2011 om 14:00 het ek die beste nuus gekry - ek het uitgevind dat ek swanger was met ons eerste baba. Ek het net die vorige week vir Leon gesê dat ek dink ek is swanger maar het nie juis verder daaroor gepraat nie.
Die middag in my etens-uur het ek net besluit om 'n draai by die apteek te gaan maak want net dalk, net dalk...en toe nou so waar as wragtig.
Ek het eers 'n ander toetsie gebruik, die algemene een wat een of twee strepies wys, ek het die toetsie gebruik en in my sak gesit om later die uitslag van die toetsie te kyk. Soos tyd verby gegaan het by die werk het ek skoon van die toetsie vergeet - toe ek uiteindelik onthou van hom het ek 'n ligte pienk tweede strepie gewaar waarna ek toe nou die Clearblue toetsie gebruik het. Elke 5 minute het ek die toetsie uitgehaal om net seker te maak dat ek wel swanger is, want ek kon my oë nie glo nie. en so het ek die hele dag die toetsie in my sak gedra.
Ek het eers niks gesê nie en gewag dat Leon by die huis kom. Ek het saam met ons hondjie, Minki op die stoepie soos altyd gesit en wag na werk. Toe hy daar stop het hy my net so gekyk en gesê: "Jy's swanger, né?" waarna ek dit toe nogals ewe probeer ontken het maar te vergeefs...hy het net geweet :D